Geagte medegelowige, vriend, (en
selfs daardie snaakse spesie genaamd 'bloubul ondersteuners'),
Lees asb eers hierdie inleiding, voordat u
hieronder die artikel 'Steve en die Bulle?' lees:
Inleiding
Ek skrywe hierdie artikel oor Steve Hofmeyr nié om
te veroordeel en te verdoem nie, inteendeel, juis omdat ek besef dat die Here
my as 'n stuk brandhout uit die vuur van die hel gered het, waarheen ek (soos
Steve!) oppad was as dit nie was vir die genade wat daar alleen in Jesus
Christus is nie.
Meer as 20 jaar gelede het ek vir Steve 'ontmoet'
by 'n partytjie, waar hy nog besig was om naam te probeer maak as 'n
opkomende sanger, nog voordat hy begin naam weggooi het as 'celeb'. Die
ontmoeting was nie baie aangenaam nie, en ek is seker hy onthou nie
meer 'n 'nobody' soos ek nie. .
My lewe was destyds soos sy lewe, op die verkeerde
pad, maar kragtens die Here se genade het my lewe 'n paar jaar na ons
'ontmoeting' verander. Ek het letterlik by die dood omgedraai.
Hoekom ek en nie Steve nie ? Omdat ek beter is, of
beter opgevoed is, die regte keuses in die lewe gemaak het ? Nee, inteendeel,
ek sien die verskil net in God se genade vir my as armsalige
sondaar. Nie dat ek enigsins nou of ooit in hierdie lewe volmaak is
nie, nee, inteendeel, soos die Heidelbergse Kategismus sê, ek moet nog my
hele lewe lank teen die eie sonde, wêreld en die Satan stry.
Ek het gewonder na ek hierdie artikel geskryf
het, of ek dit wel moet uitstuur ? Is dit werklik nodig, wie is ek as
mede-sondaar om 'n ander sondaar aan te spreek ?
En wat my finaal oortuig het om dit wel uit te
stuur, is juis die feit dat daar so 'n doodse stilte is oor die saak (ten
minste op publieke terrein), spesifiek vanuit die kerke en veral
vanuit Pretoria se geledere oor Hofmeyr se optrede. Ja, die
reaksies in die koerante is of 'n blote liberale goedpraat en aanvaarding van Steve
se lewe, of aan die anderkant net wrede verdoemenis.
Daar kan verskeie redes wees vir die hewige
reaksie of 'n doodstilte daaroor.
Ek kan maar net een moontlike rede noem: omdat
Steve Hofmeyr (en ander tragiese publieke 'afrikaner' of 'afrikaanssprekende'
figure soos FW de Klerk, Hansie Cronje, Nataniël, Casper de Vries, Pieter-Dirk
Uys, Deon Maas, ens.) verteenwoordigend is van die sondige aard,
verlorenheid, ontroue hart van ons as gemiddelde afrikanerman in die jaar
2008. Ja, alle mans, ons almal, is van nature 'steve hofmeyrs' en
sal verlore gaan as die Here ons nie red nie.
Verskriklik
is dit om te sien dat iemand soos Hofmeyr jongseuns se held is, nie net oor sy
immorele lewe nie, maar veral oor die feit dat Hy die Skepper van hemel en
aarde, ons Here Jesus Christus so laster en bespot. En daarom meen ek dit is
nodig om die saak aan te spreek, juis terwille van ons as mans, veral ook vir
ons jongseuns en dogters wat so lief is vir Hofmeyr.
Dit is een ding om te erken 'n mens worstel met
sondes, swakhede en tekortkominge in 'n mens se lewe, maar 'n heel ander
ding as 'n mens God se Woord kwaadwillig verdraai en wil laat aanpas by my
(ons) sondige begeertes, soos blyk uit Hofmeyr se reaksie op die
gebeure. Elkeen van ons moet ons lewe lank stry teen die sondes wat gelys
word in 1 Kor.6:10, en dit kan ons alleen doen deur die genade van 1
Kor.6:11. Maar ons mag nooit die sondes opsigself goedpraat nie, want dan
ontken ons by implikasie die noodsaak van Christus se angsvolle lyding en sterwe
in ons plek.
En laasgenoemde is juis wat al meer plaasvind ook
onder ons volk, ons 'afrikaanssprekendes': hoe meer 'ons afrikaanse'
sporthelde, sangsterre en 'Egoli en '7de Laan' sterre goddeloos
raak, hoe meer word ons mense agterna gesleep. Ja, 'Afrikaners is
Plesierig', het nou 'n werklikheid geword ... en dit het alles by Dallas begin
...
Mag die Here ons genadig wees, en weer ‘n geslag
opwek wat Hom weer van harte vrees en liefhet, ook in afrikaans !
Liefde in Christus
Slabbert
Psalm
126:3
STEVE
EN DIE BULLE ?
Hoe moet ons as gelowiges, begenadige gelowiges,
die lewe en optrede van die afrikaanse ikon, Steve Hofmeyr, beoordeel ?
Nie volgens Steve Hofmeyr self nie, nie volgens
die wêreld se mening nie, maar nog minder ook nie volgens my eie sondige hart
en verstand nie.
Daar is maar net een vomaakte standaard, en dit is
die Woord van die Here self: "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot
weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat
die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."
- 2 Tim.3:16,17
Vanuit sy eie woorde en die onlangse artikels
(sien hier heelonder) in die Beeld (wat nog nie as vals bewys is nie) wys ek u
op die volgende:
1. Hofmeyr
is 'n godslasteraar:
Hofmeyr: "Het God nie self die doodstraf
ingestel nie?’ vra jy. Ja, Hy’t ook skulpvis en gays verdoem, stout kinders
laat stenig, kinders deur bere laat opvreet, Sy Seun vermoor en, met
voorkennis, ’n wêreld geskep waarop Bart Simpson sou kon verbeter. Dan stuur hy
Sy Seun om ons te verlos van dieselfde ding wat ons nie gode maak nie, sonde. En
is Mugabe, hongersnood, kinderverkragters en die Midde-Ooste die beste waarmee
’n Almagtige vorendag kan kom?"
Die Bybel leer:
- "Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want
die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly
nie." Ex.20:7
- "Alle bitterheid en woede en
toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word,
saam met alle boosheid." - Ef.4:31
2.
Hofmeyr is 'n hoereerder:
"Die seksuele verhouding tussen haar en
Hofmeyr het na bewering in 1997 begin, toe sy in matriek was."
Die
Bybel leer:
"Want dit is die wil van God: julle
heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; 4
dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, 5
nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; 6
dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die
Here 'n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê
en betuig het." - 1 Tess.4:3-6
3. Hofmeyr
is 'n egbreker:
"Toe Hofmeyr en Natasha Sutherland in 1998
getroud is, het hy glo vir Van der Vyver gesê: “Jy moet in my lewe bly.”
Die Bybel leer:
"Laat die huwelik in alle
opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers
oordeel" - Hebr.13:4
3. Hy
is medepligtig aan moord:
"Toe sy in 2002 swanger raak met sy kind, het
Hofmeyr glo gesê as sy die baba wil hou, moet sy hom alleen grootmaak. Sy het
toe ’n aborsie gehad."
Die Bybel leer:
"Jy mag nie doodslaan
nie." - Ex.20:13
"En elkeen wat een van sulke
kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie
kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n meulsteen
aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see." Matt.18:5,6
4. Hy
misbruik God se heilige Naam deur te beweer dat dit dalk 'God se wil' is dat hy
sy vrou skei en met 'n ander vrou in sonde bly, en dat ons bose sondes God se
skuld is:
Hofmeyr: "Wat as die ‘ander verhouding’
God se wil is? As ek statistiek betrag, weet ek nie of alle eerste huwelike God
se wil is nie, want dan het Hy slegs ’n een derde ‘hit-rate’!” ... “Dit
kan God se wil wees dat ek en Natasha so ver van mekaar moet wees as moontlik.”
Die Bybel leer:
"Die verborge dinge is vir
die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in
ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet." - Dt.29:29
Ons as mense moet nie spekuleer oor God se
verborge wil nie, maar ons lewens inrig volgens God se geopenbaarde wil, sy wet wat goed, heilig en regverdig is.
En God se geopenbaarde wil leer dat Steve (en ons almal wat hier lees en
almal wat die afgod,"Steve Hofmeyer!"glo), moet:
A. weet dat hy in sondes lewe en verlore
sal gaan as hy daarin volhard:
"Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of
wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers
of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie." - 1 Kor.6:10
B. weet dat God alleen o.g.v. Jesus se offer,
deur die Heilige Gees sy lewe kan verander, en niks anders nie:
"En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle
is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur
die Gees van onse God."
C. Hom
moet bekeer van al sy bose woorde en dade, en moet buig voor Koning Jesus
Christus:
"God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die
mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat
Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n
Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom
uit die dode op te wek." - Hand.17:30,31
D. Maar as Hy hom nie bekeer, en nie afstand doen
van sy ongeloof, godslastering, moord, egbreuk en hoerery nie, hy verlore sal
gaan:
"Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en
moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars
hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede
dood." - Op.21:8
Ja, ons Here Jesus Christus is genadig, maar ook heilig. Hy laat nie
met Hom spot nie ! Jesus waarsku self:
En Paulus waarsku ook:
Ons almal het gesondig, wie van ons struikel nie dikwels
(soos Steve) in woord, daad of gedagte nie en verdien eintlik God se oordeel,
maar Hy spreek ons vry as ons ons sondes bely en laat staan. In
Steve Hofmeyer se geval lyk dit egter of hy openlik hom verhard teenoor die
Here en sy Woord. Hy is nie bloot 'n verlore ongelowige nie, maar 'n
militante lasterlike vyand van die Christelike geloof.
'n Mens kan maar net hoop en bid dat die Here hom in sy heilige
oordeel genadig sal wees, as Hy hom nie bekeer nie. Die sonde verblind 'n
mens so dat ons nie besef wie die Heilige is met wie ons te doen het nie !
Maar, wat van ons wat glo ? Wat die Naam van Christus op ons lippe neem ?
Veral ons wat glo en nog 'n 'Blou Bul ondersteuner' ook is ?
Wat nou, as een van die bekendste 'handelsmerke' van my geliefde rugbyspan
so maak ?
Dit is nou in gevalle soos hierdie, wat sal wys of die Here ons God is, en
of B(a)al ons god is ? (Baal was die vrugbaarheidsgod van die
Filistyne in die Ou Testament).
Sal dit nie dalk goed wees om ook (soos met Deon
Maas?), 'n SMS veldtog en boikot teen Steve Hofmeyer begin kan word nie
?
Ek moet bieg dat ek nog nie veel waarde daarin gesien het (of ooit sal sien)
om aan sulke boikotte en allerlei veldtogte deel te neem nie, maar die persone
en instansies wat gewoonlik hierdie dinge doen, moet nou mos konsekwent wees ? (Vryheidsfront,
Afriforum met hul losies by Loftus? Die HNP ? "Aksie Pretoria" en wie
ookal so 'trots' Blou is in die Jakarandastad en saam met Hofmeyr 'gemarch' het
saam met Steve?)
Ons wil tog seker nie hê Hofmeyr moet 'n rolmodel vir ons kindertjies wees
nie, veral nie vir ons klein 'bulletjies' nie ?
Kan 'n mens nog met vrymoedigheid, as gelowige, die 'Bloubul lied' van
Hofmeyer speel en sing ?
Moet die Blou Bulle rugby unie nie dalk gevra word om hul openlik van
Hofmeyer se ongeloof, godslastering, egbreek en hoerery te distansieer nie ?
As hul openlik 'Jesus' bely het tydens die S14 finaal (Jaco van der
Westhuizen asook al die 'getuienisse' daarna), dan kan hul mos nou openlik Sy
Naam beskerm deur hul te distansieer van Hofmeyr. Onthou wat leer die 2de en
3de gebod.
Sou die Bulle verwag van hul personeel, afrigtingspan, bestuur en spelers
om ten alle tye 'n voorbeeld van Christelike waardes en profesionaliteit uit te
straal teenoor die publiek (en veral vir jong kinders rolmodelle te wees), kan
hul bekostig om nog met 'Steve Hofmeyer' ge-identifiseer te word (indien hy hom
nie bekeer nie) ?
As hul (ons) nie met Geo Cronje se klaarblyklike 'rassisme' kon saamgaan
nie, sal hul sekerlik ook nie met Steve Hofmeyer se ongelowige en goddelose
beeld kan assosieer nie ?
Dit sal dalk goed wees om die BBRU te versoek om iemand anders te kry om 'n
nuwe Bloubul lied te maak, waarmee 'n mens kan assosieer, juis omdat die Blou
Bul familie daarop roem dat hul Christene is in hul woorde en dade.
As ons verontwaardig is oor Pretoria se naam wat sekere mense van ons land
wil verander, HOEVEEL TE MEER moet gelowiges verontwaardig wees oor
Steve Hofmeyer se openlike uittarting en lastering van God se heilige Naam ...
?
Ten slotte, Steve skryf in die Beeld (18.01.2008): “Hoewel ek in
Jêmbekseep op een of twee keer op my toornigste aangehaal word, kan die boek
jou slegs omkrap as jy ’n snob, ’n sinode, ’n Stormer of die regering is.”
Net terwille van die rekord, aan dié wat my nie ken nie, (veral vir al
daardie fanatiese ekstremistiese Blou Bul ondersteuners wat rugby nie as
'n sport nie maar as 'n godsdiens beoefen): ... ek is nié 'n Stormer
nie ...
Groete
Slabbert Le Cornu
E-pos: proregno@gmail.com
Hofmeyr te warm vir PNA
Beeld, Jan 18 2008
11:16:46:583PM - (SA)
Sanri van Wyk
Steve Hofmeyr se nuwe boek, Jêmbekseep, vlieg van
die winkelrakke – ondanks ’n e-posinstruksie deur die winkelgroep PNA aan hul
takke om nie die boek te verkoop nie.
Die boek, wat Desember verlede jaar uitgereik is, bevat aanhalings wat
Hofmeyr oor ’n tydperk van sewe jaar in verskeie publikasies, radiostasies en
op sy spoegblok gemaak het.
Hierin laat Hofmeyr hom onder meer uit oor die doodstraf, geloof en
gay-regte.
Een aanhaling lui: “ ‘Het God nie self die doodstraf ingestel nie?’ vra jy.
Ja, Hy’t ook skulpvis en gays verdoem, stout kinders laat stenig, kinders deur
bere laat opvreet, Sy Seun vermoor en, met voorkennis, ’n wêreld geskep waarop
Bart Simpson sou kon verbeter. Dan stuur hy Sy Seun om ons te verlos van
dieselfde ding wat ons nie gode maak nie, sonde. En is Mugabe, hongersnood,
kinderverkragters en die Midde-Ooste die beste waarmee ’n Almagtige vorendag
kan kom?”
Mnr. Thomas Mollett, uitgewer van Griffel Media wat die boek uitgee, sê
duisende eksemplare van die boeke is binne enkele weke verkoop en
herbestellings stroom in. Hy sê in die vroeë stadiums van die boek se
bemarkingsveldtog is bestellings ook van PNA ontvang.
“By aflewering het een van die bestuurders egter gesê hoofkantoor het ’n
e-pos uitgestuur wat hulle verbied om die boek te verkoop.
“Sy wou nie uitbrei oor die redes nie, maar het aangedui dit het te make
met die sterk inhoud van die boek,” het hy gesê.
Van die takke het hul bestellings teruggetrek, sê Mollett.
By navraag hieroor aan die hoofkantoor van PNA het hy met me. Trish
Swanepoel, die bemarkingsbestuurder, gepraat.
“Sy het aan my bevestig ’n e-pos is uitgestuur omdat die inhoud nie strook
met hul maatskappyprofiel nie, aangesien hulle ’n groep met ’n Christelike
basis is.”
Mollett sê Griffel Media respekteer die besluit solank dit konsekwent
toegepas word.
Swanepoel wou nie kommentaar lewer nie. Sy het gesê net mnr. Herman Botha,
die hoofbestuurder, mag kommentaar lewer. Hy het nie op verskeie van Beeld se
boodskappe gereageer nie.
Hofmeyr het per SMS aan Beeld gesê: “Dit is nogal vreemd om oral gestop te
word vir ’n aanhaling eerder as ’n liedjie.
“Hoewel ek in Jêmbekseep op een of twee keer op my toornigste aangehaal
word, kan die boek jou slegs omkrap as jy ’n snob, ’n sinode, ’n Stormer of die
regering is.”
Vrou sou kind alleen moes hê; besluit op aborsie
Beeld, Jan 20 2008
07:58:16:657PM - (SA) Susan Cilliers
Vandat sy in st. 5 (deesdae gr. 7) was, het Janine van der Vyver die sanger
Steve Hofmeyr verafgod.
Sy het sy konserte bygewoon, alles versamel wat oor hom gepubliseer is en
selfs ’n bolletjie kougom bewaar wat hy in ’n asbakkie gegooi het.
Toe sy in 2002 swanger raak met sy kind, het Hofmeyr glo gesê as sy die
baba wil hou, moet sy hom alleen grootmaak.
Sy het toe ’n aborsie gehad.
Dié en ander bewerings deur Van der Vyver (28) oor haar dekade lange
verhouding met die sanger is gister in Rapport gepubliseer.
Nog van haar bewerings, soos dit in Rapport verskyn het, sluit in:
Die verhouding het kort daarna doodgeloop.
Van die liefdesverklarings wat Hofmeyr glo aan Van der Vyver gemaak het in
SMS’e en e-posse:
Dís onder meer wat Hofmeyr op sy blog te sê gehad het oor die verhouding
met Van der Vyver:
Steve skei nie, want vrou ‘sal hom kaal uittrek’
Beeld, Jan 20 2008
8:55:18:197PM - (SA)
Susan
Cilliers
Geld het vermoedelik ’n rol gespeel in die sanger Steve Hofmeyr se besluit
verlede jaar om alles in die stryd te werp om sy huwelik te red en sy minnares
van tien jaar te los.
Só sê ’n bron na aan Hofmeyr se binnekringe in reaksie op sy voormalige
minnares Janine van der Vyver se onthullings gister in Rapport.
“Die skeidokumente was al gereed, maar Steve het besef Natasha (Sutherland,
sy vrou) gaan hom kaal uittrek en het beloof om Janine te los. As hy nie soveel
gehad het om te verloor nie, sou hy Natasha gelos het.”
Van der Vyver vertel onder meer die sanger, wat drie buite-egtelike kinders
het, het haar swanger gemaak, waarna sy met sy medewete ’n aborsie gekry het.
Sy dagvaar Hofmeyr ook weens beweerde kontrakbreuk, omdat hy glo nie sy
beloftes nagekom het om vir haar ’n huis te koop, ’n maandelikse toelae te gee
en haar finansieel te help om ’n fiksheidsateljee op die been te bring nie.
Van der Vyver, van Pretoria, beweer ook Hofmeyr het beloof om met haar te
trou en kinders by haar te hê.
Volgens Beeld se bron het “almal” behalwe Sutherland geweet van die jare
lange verhouding met die 28-jarige fiksheidsinstrukteur. “Natasha was diep
verneder toe sy dit uitvind.”
Nog ’n bron sê Hofmeyr het Van der Vyver “soos ’n klimtol gespeel” en dat
haar onthullings “verdoemend” is. “Dis eenvoudig nie waar dat hul verhouding
bloot popster-afleiding was soos Hofmeyr in Desember in ’n Huisgenoot-artikel
geïnsinueer het nie. Hulle het vir jare ’n ernstige verhouding gehad.”
In die Huisgenoot-artikel sê Hofmeyr sy vrou het hom vergewe vir die
verhouding en dat hulle weer kliphard aan hul huwelik werk. Hulle het twee jong
seuns, Benjamin en Sebastian.
Daar is ook diegene wat nie veel simpatie met Van der Vyver het nie. “Sy
het oop oë met die verhouding aangegaan, wetende dat Steve getroud is en
kinders het. Sy moes sien wat kom.”
Regskenners het gister aan Beeld gesê as Hofmeyr ontken hy het die genoemde
ondernemings aan Van der Vyver gemaak, rus die onus op haar om te bewys dis wel
gemaak. “Dan is dit sy woord teen hare. As die hof nie kan besluit wie om te
glo nie, sal haar eis nie slaag nie.”
Hofmeyr wou gister geen kommentaar lewer nie.